of liewers, ‘n ander sedoos.
die gedagte het gister laatmiddag by my opgekom, toe ek die pad stasie toe aangepak het, en die kaapse dokter my herinner het dat hy ook nog hier is.
sedoos is vir my ‘n vreeslike mooi naam, eintlik, en beskryf nogal redelik raak (op ‘n verskeidenheid maniere) hoe dié dikwels onaangename luggie in die kaap rondroer. dis ook een van daai woorde wat so reg uit die volksmond kom wat ek so vreeslik baie geniet. afrikaans met woema.
gister se roering was sekerlik nie naastenby so erg soos wat ek al hier rond gevoel het nie. maar tog, na ek om die hoek gestap het en dit amper gevoel het asof my bene gaan rondgeruk word soos ‘n marionet wat deur ‘n ou met parkinsons beheer word, het ek heel geinspireer gevoel.
so tussen die blare en vuilgoed wat so elke nou en dan ‘n gat deur my gedagtegang kom waai het, het ek toe begin dink oor die wind. oor hoe hy by die burgersentrum verby op ‘n lekker dag in ‘n tonnel afkom, en met twee – soms selfs drie – gemaal word. om daar oor die pad te loop op so ‘n dag, is ‘n ekstriem sport wat meer gevare inhou as bungyjump (as die windjie jou hier skep ruk niks jou terug nie).
toe hardloop my kop weer oor na maandag oggend se beriggie op kfm. oor muizenberg wat die naweek toegemaak is. as gevolg van die probleem met “stingrays” wat soveel mense beseer het. o wag, daar was ‘n paar beserings van mense wat op mosselskulpe getrap het en gedink het dis stingrays.
hulle het selfs ‘n onderhoud met iemand gehad om te sê dat dit maar elke jaar so is as die suidoos gewaai het.
vreemd.
dis die eerste jaar dat ek van die stingrays gehoor het.
teen ontbyttyd het ons (die breakfast club, soos ons onsself al die laaste vyf jaar noem) om die tafel uitgewerk dat dié in werklikheid toe nie die stingrays was wat vir steve irwin die ewigheid ingehelp het nie. die’s die ander soort, daai met die bubbles en die lang blou sterte.
kfm se regte joernaliste is seker nog met vakansie…
dit was darem ‘n goeie begin vir my werksjaar, met die tikkie humor.
elke geval. so ruk die wind my toe nou half uit my draai uit, en ek sien rondom my druk die mense ook maar skuins vooroor. iemand maak in die verbygaan nog ‘n simpatieke aanmerking teenoor ‘n vriend oor haar ma wat met ‘n rok aan kom werk het.
innige simpatie tannie, maar moet net nie te styf vashou nie, as ‘n rok hier wind skep, gaan jy kitesurf…
nou ek weeg (hopelik) dig neffens die regte kant van 100kg. ek was nog nie op ‘n skaal na krismis nie, want dan kan ek aanhou om so te glo. en tog kan die ou windjie my nogal soms laat stilstaan.
maar hy word ook die kaapse dokter genoem. want hy maak skoon.
sommige dae, as die wind nie waai nie, is die lug bokant en rondom tafelberg bruin van die vuilgeid. dan kom die sedoos, en skielik is die kaap weer, um, hollands…
gister se sedoos het my swartgalligheid ook weggewaai.
so vandag is beter.