“Ek wil vir Metrorail ‘n lansie breek,” sê Gert nou bietjiedag een oggend op die trein op pad werk toe. Ek wil nog begin verduidelik dat ek dink hy verstaan die betekenis van die gesegte verkeerd, toe hy aangaan. “En ek wil dit in hulle hol afbreek.” Die onverwagse venyn laat my so half terugstaan – my ou vriend is ‘n sagte mens, as hy so aangaan is dit amper soos om deur ‘n goudvis aangeval te word. Ek sê toe maar net “Ja…”
“Al probleem is dat dit hulle gaan toestop, en dan styg alles op. En dan eindig hulle net nog meer vol kak op as wat hulle klaar is!”
Op daai stukkie wysheid kan mens nie veel sê nie, so ek sug maar net in simpatie saam.
Ek en Gert ry al lank saam trein. Ons moes al dae om op stasies staan en wag vir treine wat nie opdaag nie (sonder dat enigiemand iets afkondig); treine wat laat is – sommer baie; of natreën in treine wat hoogwinter nie vensters het nie; of – een van ons grootste frustrasies – treine wat in die middel van nêrens vir ‘n uur of meer gaan staan, en jy kan nêrens anders as waar jy klaar is nie.
Dan is daar natuurlik die nuwer frustrasie – treine wat, maak nie saak wat jy betaal of watter klas jy ry nie, oorvol is. So jy staan. Of hang aan daai strêps in die middel, as jy lank genoeg is om hulle by te kom. Jy kan die oorvol treine mis as jy lekker vroeg trein vang (of baie laat oggend – maar dan kom jy by ‘n bedonnerde baas aan). Al probleem met vroeg trein vang is, as jy nie melk nie, en jou vrou nie vroegoggend wakker gemaak wil word nie, jou motivering vir self vroeg wakker word maar erg vervaag.
Maar nog nooit het ek vir Gert so hoor aangaan nie. Deur alles het Gert standvastig ‘n goeie mens gebly – hy is voorsanger in ons kerk, betrokke by die jeug en glo vas dat mens in handel en wandel ‘n voorbeeld moet wees.
Vreemd, ek sê jou, vreemd.
Dan weer, het ek volle begrip vir Gert se woorde – ek is nie voorsanger in ‘n kerk nie (ek het al ‘n paar keer leiding geneem in die pub, maar daar is ek gevra om liewers nie meer te sing nie), ek beskou die jeug as ‘n irriterende spul hardegat bliksemse kinders wat maniere moet leer, en my handel en wandel sal nie altyd eers ‘n goeie voorbeeld vir ‘n dokkehoer wees nie.
Sien, die probleem lê by die blou trein. Nie daai lang ene wat mense so baie betaal om op te klim hier oor die mooi oop vlaktes van Suidelike Afrika nie. Die een het Metrorail iewers (vermoedelik in een van die ou Oos Blok lande – die ding laat my baie aan ‘n Dacia dink) opgetel vir ‘n bargain, en as ‘n eksperiment hier kom laat loop.
Daar is baie goed fout met die trein. Dis te kort. Elke wa het heeltemal te min sitplekke. Daar’s net ‘n klomp gladde (en redelik hoë) relings vir die staners om aan te hang, so kort mense val die hele wa vol. Die sitplekkies is helemal te klein. Sulke harde plastiek goeters wat amper lyk soos daai stoele wat hulle altyd in kerksale gebruik het (daai’s wat so by mekaar ingehak het), net smaller en platter – en baie gladder. Jy moet omtrent jou boudwange knyp en vasskop aan die voorkant op die sitplekkies; as jy nie mooi konsentreer nie, gly jy af en val in die gang in, onder die staners se voete in. En bewaar jou siel as een van daai dikgat tannies langs jou kom sit. Of nog erger, weerskante.
Nou is daar darem mos – om te regverdig dat sommige mense meer betaal – ‘n MetroPlus ook op die trein. Die heel voorste wa. Maar al hoe dit verskil is dat daar so hier en daar op ‘n sitplekkie so ‘n kitch blou matjie vasgeplak is – dis nie sagter nie, maar ten minste hoef jy nie knypboude te sit om bo te bly nie.
Metrorail se ander truuk met die trein is om dit so half rond en bont te skeduleer op die lyn. Sodat mense nie die trein se tye kan raai en hom vermy nie, sien. So menige oggend kom jy op die stasie aan met die hoop dat jy darem vandag ‘n ou sitplekkie vir jou boude gaan kry, dan kom die ding die stasie ingesluip.
Dan praat menige vroom mense skielik baie lelik. Sommer erg. Laat my so half dink aan die Sondag toe oom Willem Vries in die ouderlingbank sit en vis vang het, en die dominees op ‘n entosiastiese oomblik die mikrofoon van die kansel afklap. Oom Willem het bo-op die kerkbank gespring en kliphard geskree “O God, dis die fokken duiwel!”
So Gert se nuutgevonde sondigheid kom al ver, want hy het nog nie verkeerd gepraat oor die trein nie. Maar ‘n mens kan net soveel opbou. So daar staan Gert toe, hoog bedonnerd, en gluur die wêreld met haat aan.
“Ek het nie blou Maandae nie. Ek het blou treindae!”